Weeklikse Maaltydbeplanning + GRATIS aflaai

Daar is min dinge wat soveel angs verskaf soos die besef dat ek nie maaltye vir die week beplan het nie. Daardie laaste-minuut-rondkrap in die kas en yskas, later in die vrieskas, om te kyk of ek wonderbaarlik iets bymekaar kan sit, put my geweldig uit. Die weke wat ek wel ʼn kosrooster vir ons gesin uitwerk, is so bevredigend. Dit gee vir my die gemoedsrus dat ek in beheer is en dat almal genoeg en gesond gaan eet.

As jy nog nie oorreed is nie, lees bietjie verder hoe ʼn weeklikse maaltydbeplanner jou lewe kan verryk.

agriculture-bell-peppers-chilli-128402 Photo by Angele  J from Pexels.jpg

Minder stres

In plaas daarvan om elke oggend te wonder wat jy vir aandete gaan maak en te stres oor of die vleis betyds gaan ontdooi, bied maaltydbeplanning vir jou ʼn alternatief. Dit haal die onsekerheid uit die situasie en sit jou in beheer van jou dag.

 

Spaar tyd

Deur jou week se maaltye te beplan, skakel jy nie net onnodige besoeke na die kruidenierswinkel uit nie, maar ook besluiteloosheid. Dit maak kosvoorbereiding (meal prepping) baie maklik en help jou ook om te beplan vir oorskiet en verminder voedselvermorsing.

 

Spaar geld

Gewapen met ʼn weeklikse spyskaart, sal jou inkopielys ook baie meer vaartbelyn wees. Jy kan dit selfs verder vat deur inkopies aanlyn te bestel, waar jy presies kan sien hoeveel jou inkopies gaan kos, en dit dan nog kan aanpas om presies in jou begroting te pas, voordat jy deurklik om te betaal.

ʼn Inkopielys bied ook die geleentheid om na weeklikse winskopies te kyk en verder te spaar.

 

Bevorder gesondheid

Hierdie eenvoudige beplanningstegniek kan verseker dat ʼn gesonde leefstyl, met regte kos, gevolg word.  Jou spesifieke doelwitte – of dit gewigsverlies is of om so veel as moontlik organies te eet – kan alles vooraf beplan word. Daar kan natuurlik ook vir allergieë en voedselvoorkeure voorsiening gemaak word.

 

Vermy besluitnemingsuitputting

Gebruik jou breinkrag liewers êrens anders waar dit regtig nodig is! 

IMG_1681_e.jpg

Hier is ʼn paar vinnige wenke om die meeste uit jou beplanning te kry:

●        Kyk deur jou koskas, yskas en vrieskas en sluit dit in jou maaltydbeplanner in – veral kos wat dalk in die volgende week verval.

●        Kyk na jou kalender en beplan rondom aande wat julle nie by die huis is nie, uiteet of laat by die huis gaan aankom (laai ons handige maandkalender hier af).

●        Kies resepte uit jou resepte-versameling wat jy wéét gewild en flatervry is.

●        Maaltydvoorbereiding:  Skeduleer tyd in jou kalender om die kruideniersware wat jy gekoop het, te verwerk. Dit kan gedeeltelik wees, bv. om al die vars groente en kruie te verwerk of dit kan ʼn paar uur wees waar jy die hele week se individuele kos voorberei, bv. vleis en groente gaarmaak, grane week en kook, vrugte was, ens.

Om jou ʼn hupstoot te gee, het ons ʼn weeklikse maaltydbeplanner saamgestel.  Laai die vorm af, druk dit uit, lamineer dit en sit dit op jou yskas. Sodra jou weeklikse beplanning afgehandel is, kan jy jou week se maaltye neerskryf en sodoende sal almal in die gesin presies weet wat elke dag vir ete is.

(Indien jy ʼn enkel-maaltydbeplanner soek, kan jy dit hier aflaai!)