Kom ons praat: selfsorg

Dit het my jare gevat om op die punt te kom waar ek besef hoe belangrik dit is om eerste my beker vol te maak, sodat ek genoeg het om vir my kinders en man en huishouding te gee.  Toe ek jonger was, het ek dit nogal reggekry. Een van my gunsteling maniere was om tyd saam met myself te spandeer met ʼn borrelbad en kerse, dan gemaklik aan te trek en in die bed te klim met ʼn tydskrif wat ek van voor tot agter deurgelees het. 

book-bouquet-card-545042 (1).jpg

Daardie eerste weke, nee maande, as nuwe ma was woes, selfs die tweede keer was ek nie veel meer voorbereid vir hoe so ʼn piepklein dingetjie jou hele lewe kan oorvat nie. Stort en tandeborsel was ʼn luukse. En ek weet ek is nie alleen nie – soos daardie klein babatjies groter word, het hul ander behoeftes wat jy as ma moet voorsien. Voor jy jou kom kry is dit middagete en jy is steeds in jou slaapklere en totaal en al uitgeput, maar jy kan nie regtig sê wat jy tot dan toe gedoen het nie. Jou man kom tuis en kan nie verstaan hoekom die huis lyk soos dit gister gelyk het nie en wat eet ons vir aandete? Alles bou op – mommy burnout en mommy overwhelm raak ʼn baie persoonlike realiteit. Dalk huil jy sonder ophou, of raak so gefrustreerd en kwaad uit die bloute. Dalk voel jy teneergedruk en reageer jy bitsig met dié vir wie jy die liefste is. Dalk is jy so moeg en uitgeput dat jy nie meer lekker kan onthou of kommunikeer nie. Jy het dalk nie lus om enigiets te doen nie en daardie skottelgoed en wasgoed bou net meer en meer op.

Dalk, net dalk, is dit nie omdat jy nie ʼn goeie ma is nie. Dalk is dit omdat jy nie by jouself uitkom nie. Jouself ʼn prioriteit maak nie. Dalk het jy vir dae, weke nie tyd gehad om net by jouself te sit in stilte nie. Of kans gekry om jou liggaam te oefen, of jou passie te beoefen – watookal vir jou vreugde bring, nie.

Sonder selfsorg en om jouself eerste te plaas (al klink dit so selfsugtig), gaan jy onwillekeurig uitbrand. Jy is ʼn prioriteit en net soos wat jy jou kinders, man en huishouding ʼn prioriteit maak, is jy ook waardig om op daardie prioriteitslysie te kom. Hier is die waarheid: niemand gaan dit vir jou doen nie, net jy kan. Jy moet jou beste vriendin wees. Wyse woorde van ʼn geliefde vriendin wat meer en meer vir my waar geword het soos ek ouer word.

So begin te toets wat werk vir jou. Wat het jy nodig en wat bring vir jou vreugde. Dit is wat jy nodig het om daardie reset button te druk.  Hier is ʼn paar idees:

  1. Basiese benodighede soos was, tandeborsel, hare kam, skoonheidsroetine, water, gesonde, voedsame kos….en slaap.

  2. Jou passies, stokperdjies, wat maak jou gelukkig en tevrede, wat vul jou beker? 

  3. Positiewe mense wat jou opbeur, bemoedig, in dieselfde seisoen as jy is, wat vir jou kan raad gee, iemand by wie jy net kan wees.

alone-clear-sky-clouds-691919.jpg

Hoe begin jy?

Vat 15 minute ʼn dag. Kry iemand om na die kinders te kyk – gaan sluit jouself toe in jou kamer (dit is super bevredigend) of gaan êrens waar jy alleen kan wees en kies uit die lys:

  • Luister na strelende musiek

  • Luister na ʼn inspirerende potgooi

  • Lees ʼn boek of tydskrif

  • Sit ʼn gesigmasker op

  • Verf jou naels

  • Skryf in jou dankbaarheidsjoernaal

  • Bid / Mediteer

  • Drink iets warm terwyl dit warm bly

  • Bel ʼn vriendin


As jy meer as 15 minute het, oorweeg die volgende idees:

  • Brain dump / skryf alles wat in jou kop opkom neer totdat jy nie meer aan iets kan dink nie

  • Maak skoon – as jou omgewing skoon en georden is, dink jy ook helderder en voel jy meer in beheer

  • Beplan jou dag, week of maand en doen kosbeplanning (meal planning) sodat jy georganiseerd, in beheer en nie oorweldig en angstig die dag/week aanpak nie

  • Reflekteer op hoe jy voel, hoekom jy so voel en hoe jy dit kan verander of aanpak. Maak ʼn plan. Oorweeg ʼn permanente weeklikse selfsorg-afspraak met jouself wat sonder twyfel elke week plaasvind en jou kan laat uitsien na me-time

Wanneer jy vlieg, is die eerste ding wat jy in ʼn noodsituasie moet doen, om die suurstofmasker op jou eie gesig te sit. Sodoende kan jy dan jou kinders help met hul maskers. Dis presies wat selfsorg is. Dis ʼn noodsaaklike deel van ma-wees. 

As jy nie vir jouself kan sorg nie, hoe kan jy vir ander sorg?