’n Lewe van Eenvoud

Ek onthou een episode van The Oprah Winfrey Show. Sy het onverwagse besoeke aan ʼn paar van haar bure by die werk gemaak om hulle persoonlik te gaan groet. By die een huis, het ʼn netjiese dame die deur oopgemaak. Sy het rustig gekyk na Oprah en haar en haar kameraman ingenooi – asof dit net nog ʼn normale mens is. Haar man het kom groet en hulle het Oprah genooi om op die bank te kom sit. Oprah kon nie uitgepraat raak oor hoe netjies hulle huis lyk nie. Sy het ʼn opmerking gemaak: “waar is al julle goed?” Die man en vrou het hul skouers effens gelug en geantwoord dat alles daar is, in die huis. Oprah kon steeds nie verstaan nie. “Ek sien niks nie.” Toe begin sy die kaste oop te maak om te kyk waar al die goed dan nou is. Daardie mense se huis was pragtig netjies, hulle het geen onnodige goed gehad nie – geen clutter nie. Hulle hele huis het ʼn rustige atmosfeer geskep, soveel so dat ʼn onbeplande besoek van ʼn bekende glanspersoonlikheid soos Oprah, hulle nie vir een oomblik angstig gemaak het nie. Let wel, hulle het ook nie nodig gehad om soos ʼn warrelwind deur hul huis te gaan en dit te probeer skoonmaak nie. Ek dink selfs al het hulle geweet Oprah kom, sou hulle steeds niks gedoen het aan die huis of hulself, voordat sy gekom het nie.

activity-art-art-class-730807.jpg

Nou ja, jare later, is dit iets wat ek steeds tot vandag toe onthou. Die ander bure het geskree en gehardloop en op en af gespring toe hulle Oprah sien, en daarna verskoning gevra vir hoe hul huise gelyk het. Wat was dan die groot verskil tussen dié huisgesinne.

Die verskil is Simple Living. Hulle het ʼn lewe van eenvoud gelewe – een waar hulle slegs die dinge wat vir hulle betekenisvol en van nut is of wat vreugde verskaf, hou.

black-black-and-white-blur-6350.jpg

Persoonlik, is dit een van ons gesin se motiveerders, iets waarna ons streef. Maar hoe kry jy dit reg om ʼn lewe van eenvoud te leef te midde van ʼn wêreld wat om besig te wees, verheerlik? So asof jy meer belangrik is wanneer jy kan sê: “ek is tog so besig, ek kan my nie draai nie”? Vir my val dit in dieselfde klas as perfeksionisme – ʼn woord wat al te maklik gebruik word om jouself te verheerlik. Perfeksionisme is nie iets om na te streef nie. Besig is nie iets om na te streef nie.

As ma’s is ons lewe onwillekeurig vol. Alles vat inspanning, beplanning en organisering. Maar daar is maniere om ʼn eenvoudiger lewe te leef: dis ʼn doelbewuste besluit om alles wat jy doen, in te neem. Om nie dinge af te jaag nie, maar in die oomblik te wees. Om jou tyd baie spesifiek te bestuur en bewustelik te kies vir wie of wat jy jou kosbare tyd en energie gaan gee of waar jy dit gaan deurbring.

apple-bed-bedroom-54283.jpg

ʼn Lewe van eenvoud, is om die onnodige van jou lewe te verwyder sodat jy ruimte kan maak vir dit wat werklik belangrik is. Wanneer jy jou lewe vereenvoudig, sal dit ʼn effek hê op elke ander deel van jou lewe: jou ouerskapstyl, eetgewoontes, stokperdjies, geloof, gesondheid, werk-lewe balans, begroting, huisskoonmaak, jou stresvlakke, wat jy inbring in jou huis en jou kapasiteit om te kan gee vir jou medemens. En vir elkeen is dit anders, maar op die ou einde gaan dit oor ʼn verandering in jou begeertes, jou perspektief – en om doelbewus en met dankbaarheid te lewe.

Wanneer jy die onnodige in jou lewe uitskakel, maak jy spasie vir die dinge wat vir jou belangrik is en kan jy ander (en jouself) dien wat jou tyd of hulpbronne regtig nodig het. 

activity-art-art-class-730807 copy.jpg

So hier is my vraag vir jou, hoe kan jy jou hulpbronne beter bestuur om ʼn meer betekenisvolle lewe te lei en tyd te wy aan die dinge waarop jy regtig wil?