Baba- en kindmodelleerwerk 101

Jy het ʼn pragtige kind met treffende gelaatstrekke en wonder of daar nie dalk ʼn kans is dat hy of sy bietjie modelwerk kan doen en sommer nou al kan begin bou aan daardie skrikwekkende tersiêre onderwys-spaarrekening nie. Jy is op die regte plek! Hier is bietjie raad oor die bedryf en wat om in gedagte te hou.

  • Modelleerwerk gaan nie net oor die uiterlike nie, maar ook oor jou kind se temperament. Sal hy/sy vir ʼn tyd kan konsentreer, luister, staan, sit, uitrustings ʼn paar keer aan en uit kan trek?

  • Dinge in die modelbedryf gebeur bitter vinnig en sonder genoegsame waarskuwing. Jy kan ʼn uitnodiging na ‘n plasing (casting) binne etlike dae ontvang. Indien jou kind dan gekies word vir die fotosessie (shoot), kan dit so gou as die volgende dag wees.

  • Die fotosessie kan binne ʼn tydperk van tot drie weke plaasvind en jou kind moet gedurende daardie tyd die heeltyd beskikbaar wees indien hulle hom/haar gaan benodig. Dus moet julle baie buigsaam wees.

  • Die agentskap neem ʼn persentasie van jou kind se betaling – dis hoe hulle weer hul geld maak. Elke agentskap het verskillende beleide, en dis jou verantwoordelikheid om in jou navorsing voor jy by een aansluit, hieroor uit te vind. 

  • Onthou, wanneer jy aansluit by ‘n agentskap, is dit eksklusief. Dus mag jou kind nie ander modelwerk  doen of by ander modelagentskappe aansluit nie.

  • Betaling vir ʼn fotosessie kan letterlik maande duur omdat die handelsmerke vir wie die fotosessies is, baie maal oorsese maatskappye is en die proses eenvoudig maar lank neem. Wees dus geduldig.

adorable-baby-boy-786220_Denafi Sy_Pexels.jpg

Wees versigtig:

  • As jy vir ʼn modelagentskap moet betaal om deel daarvan te word – moet die rooi ligte in jou kop aangaan. Jy is nie veronderstel om vir enige iemand iets te betaal nie. Eers as jou kind ʼn fotosessie gedoen het, kry die modelagentskap ʼn deel daarvan as kommissie.

adorable-baby-child-789786 Photo by Daria Shevtsova from Pexels.jpg

Praktiese raad vir ʼn plasing (casting) en fotosessie (shoot):

  • Maak seker dat jy die presiese adres vir die casting het. Skryf dit neer in jou dagboek en bewaar dit in jou GPS. Druk die spesifieke aanwysings ook uit op hardekopie. Jy wil nie verdwaal en dan tel jou selfoon nie die GPS aanwysings op nie.

  • Maak seker dat jy genoeg petrol in jou motor het die dag voor die tyd.

  • Laai jou selfoon se battery vol voordat jy die huis verlaat.

  • Maak seker dat jy genoeg kleingeld vir parkering het. 

  • Ry vroegtydig van die huis sodat jy voorkeurparkering kan kry. Daar is partykeer honderde kinders wat na dieselfde casting gaan – veral as dit ʼn open casting is, dus is parkering verskriklik beperk. 

  • Neem ʼn ouma, vriendin of eggenoot saam na die casting indien hulle beskikbaar is. Jy sal kan doen met iemand wat die moraal hoog hou, moontlik julle kan aflaai en parkering soek, en jou kind help besig hou terwyl julle wag.

  • Neem baie drinkgoed en peuselhappies saam. Gesond en min suiker, natuurlik, anders sit jy met ʼn effens hiperaktiewe kind, wat jy natuurlik wil vermy.

  • Wanneer jy by die casting aankom, soek dadelik die persoon by wie jy moet aanmeld en loop hom trompop en vra waar jy kan aanteken. Dit beteken jy kan dan op die lys kom vanwaar hulle jou kind sal roep. Hoe gouer jy op daardie lys kom, hoe gouer word julle geroep, en hoe gouer kan julle weer gaan.

  • Maak seker dat jy jou kind sommer voor julle ry, se lengte meet. Jy sal dit by die casting moet deurgee en dan kan jy sodoende dit vermy om daar dit te meet. Enige iets om jou kind nie onnodig ongemaklik te maak nie, veral babas en peuters, hulle wil nie nog staan teen ʼn muur wanneer daar honderde mense na hulle kyk nie. Dit kan oorweldigend wees.

  • Neem speelgoed of boeke saam om die tyd te verdryf.

  • Trek jou kind aan in neutrale en gemaklike kleure. 

  • Afhangend van hoe oud jou kind is, probeer verduidelik wat gaan gebeur voor dit gebeur sodat niks ‘n verrassing is nie. 

  • Neem ʼn foto van jou kind in sy uitrusting(s) sodat jy dit as verwysing kan gebruik. Die kans dat jy die finale foto’s van die advertensieveldtog waarvoor jou kind gemodelleer het, sien, is skraal. Dus kan jy ʼn paar maande later self aanlyn navorsing gaan doen en kyk of jy dalk op foto’s afkom. Dis natuurlik in die geval van digitale webblad-veldtogte, soos vir aanlyn-klerewinkels en hul nuwe seisoenkatalogus.

  • Bly kalm en geniet die ondervinding!

thiago-cerqueira-191866-unsplash.jpg